As 'n jong seun wat kaalvoet en vry grootgeword het op sy ouers se sitrusplaas in die Oos-Kaap sou Ian Roberts nooit kon dink dat hy eendag 'n ikoon van die silwerskerm sou word nie. Vandag nog herken mense hom as die taai Bittereinder Sloet Steenkamp van Arende of as Boet van die gewilde Castrol-advertensies.

Ian se loopbaan strek van Langstraat in Kaapstad tot Los Angeles en van Shakespeare-produksies in die teater tot die Oscar-wenner Tsotsi. In sy outobiografie verklap hierdie briljante storieverteller met 'n stoute sin vir humour meer oor wat alles agter die skerms op televisie- en rolprentstelle gebeur.

Hy beskryf ook die hoogbloei van Afrikaanse televisie- en rolprentvervaardiging toe hy saam met legendariese regisseurs soos Manie van Rensburg en Dirk de Villiers gewerk het. Sy lewensverhaal is 'n meesterklas in die kuns van toneelspel.

So outentiek vreesloos en onkonvensioneel soos wat talle van sy karakters was só is Ian ook in die regte lewe. Hy trap sy eie paadjie en was nog nooit 'n tropbok nie. Hy deel sy lewensverhaal met soveel humor patos en insig dat dit nie anders kan as om die leser te ontroer nie.